When Heaven Meets Earth (Nelspruit-konferensie)

 

Hierdie vrouekonferensie word Woord-gebaseer in Afrikaans aangebied.


Matteus 6:10 … laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.


Die wêreld se tempo is ongenaakbaar en wreed, en ons vind onsself baie keer op ’n plek van fisiese en emosionele uitbranding wat later ook ons geestelike lewe beïnvloed. Die mens is nie gemaak om in die ritme van die wêreld te wees nie, maar in ritme met GOD se hart. Wanneer ons in ritme met SY hartklop en in SY wil vir ons lewe is,  kan ons by die verborgenhede van God uitkom en die dinge van die wêreld oorkom … elke liewe uitdaging.


Hoekom dink jy moedig GOD se WOORD ons aan om die dinge wat daarbo is te bedink?


Kolossense 3:2-3 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.


Tydens die naweek gaan ons, vanuit die rus van God, ons harte weer instel op die ritme van Sy Vaderhart. Die vrouekonferensie word aangebied by Klipspringer Lodge in die hartjie van die Laeveld. Die lodge is stil en verwyderd van die stad se lawaai. Jy sal tyd kry tussen die lesings om by jouself en GOD uit te kom. Daar is veilige staproetes wat jou diep in die natuur inneem.


Ons gaan kyk na onderwerpe soos om in die ritme van God se hart te leef deur effektiewe gebed en ook gesels oor ons God wat vir ons is, wat ook as Regter vir ons optree in die hemelse hof. Ons praat oor die vreugde van wat dit beteken om in die vrees van die Here te lewe (om in Sy wil vir my lewe te funksioneer).


Ons deel nie in besprekingsgroepe in nie, alhoewel jy baie tyd sal kry om saam met jou konferensievriendin te kuier (indien jy iemand wil saambring) asook genoeg tyd sal hê om nuwe vriendinne te maak, sou jy dit verkies. Stilte en alleentyd sal daar genoeg van wees.


Die lesings is kort, die konferensie is intiem en klein met ’n rustige pas. Daar is slegs 40 plekke beskikbaar. Registrasie en ’n deposito verseker jou plek. Daar is ook voorafbetaalopsies beskikbaar. Kom rus, kom leer en kom kuier saam met ons.



AANLYN REGISTRASIE

Bepalings en Voorwaardes

  1. Jy sal meer inligting en 'n faktuur binne twee werksdae na registrasie ontvang.
  2. Registrasie is slegs geldig indien die volledige bywoningsfooi betaal is volgens die betalingsopsie van jou keuse.
  3. Bewys van betaling moet asseblief per e-pos na info@trinitytruth.co.za gestuur word.
  4. Ongelukkig is geen fooie terugbetaalbaar nie. 
  5. Die konferensie word op eie risiko bygewoon, en Klipspringer Lodge of Trinity Truth Foundation word gevrywaar van enige skade.