Nelspruit (Laeveld): Kies die Lewe

Hierdie kursus vorm deel van 'N BERADERSKURSUS waar jy in jou doel waarvoor jy gestuur is sal opstaan en te leef om God te verheerlik! Ons verheerlik Hom wanneer ons Sy voete en hande word in hierdie gebroke wêreld; om 'n verskil te maak DEUR DIE LIG VAN GELOOF, HOOP EN LIEFDE TE LAAT BRAND.


Eers moet ons self die LEWE KIES voordat ons ander kan leer hoe om die LEWE te kies. Daar kom ‘n tyd in elkeen se lewe waar ons introspeksie moet doen oor waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Wat is dit wat jou in die lewe terughou sodat jy glad nie vorentoe kan beweeg nie? Hoekom maak jy elke keer dieselfde foute? Jy is dalk al jare so vasgevang in seer dat jy nie eers weet hoe die leuen van die duiwel jou terughou van die VRYHEID wat GOD jou kan bied nie.


Die KIES DIE LEWE-kursus bestaan uit vyf modules waar ons in diepte gaan kyk wat die VERBOND van GOD regtig vir ons beteken, want as jy dit verstaan sal jy verstaan in die VREES-module dat GOD se LIEFDE al die vrees verdryf. Jy sal verbaas wees oor hoe baie vrees jou terughou. En dan sal jy verstom staan oor GOD se waarheid wat jou in hierdie module sal vrymaak.


Ons kyk onder andere na VERWERPING; hoe die wond jou al vir jare kan terughou en verkeerde toekomsbesluite laat maak. Die gevoel van nie goed genoeg nie. Ek voel weggestoot. Ek voel ek moet kruip. In die Kies die Lewe-kursus maak ons klaar met die wond wat seer in ons verlede gelos het deur verwerping vóór geboorte, ná geboorte, seer van woorde wat oor jou gesê is en so baie ander gebeure van verwerping wat ons by ‘n punt gebring het om maar net maskers te dra sodat ons elke dag kan aangaan. Word vry van VERWERPING.


As ons nie klaarmaak met vrees en verwerping nie, sal dit omskakel in depressie – daardie gevoel van EK WIL VLUG! Ek wil alleen wees, ek wil nie meer lewe nie. Dalk het jy vir so lank al ‘n diepgewortelde skuldgevoel waarvan niemand weet nie. In die DEPRESSIE-module kyk ons ook baie diep na molestering en die uitwerking wat dit op die mens se sielsdimensie het. JESUS het aan die kruis gesê: "DIT IS VOLBRING." Kom vry van jarelange depressie wat onverwerkte trauma by jou gelaat het.


Ons sluit af met die VYAND IS OORWIN:


OPENBARING 12:11 Hulle het hom behoorlik gewen. Hulle wapens was die bloed van die Lam en die boodskap wat hulle met soveel oortuiging aan ander vertel het. Alles het nie net vir hulle om hulleself gedraai nie. Hulle was bereid om tot die dood toe met hierdie wapens te veg.



AANLYN REGISTRASIE

Bepalings en Voorwaardes

  1. Ek aanvaar dat hierdie kursus 'n Bybelgebaseerde kursus is.
  2. Ek aanvaar dat die gevolgtrekking van hierdie kursus van my eie pligsgetrouheid en bywoning afhang.
  3. Registrasies is slegs geldig indien bewys van betaling voor of op 31 Januarie 2025 ontvang is. Registrasiefooie (R600) is vooruit betaalbaar, en daarna moet die res van die kursus in vier paaiemente betaal word: R500 teen 29 Februarie 2025, R500 teen 31 Maart 2025, R500 teen 30 April 2025, en R400 teen 31 Mei 2025. Jy is ook welkom om die volledige koste van R2 500 eenmalig te betaal teen 31 Januarie 2024.
  4. Opsioneel: Indien jy 'n sertifikaat vir die voltooiing van hierdie kursus wil ontvang, is 'n ekstra fooi van R200 teen 30 Julie 2025 betaalbaar. Hierdie fooi sluit deur-tot-deur aflewering en koerierkoste in.
  5. Jy sal 'n faktuur binne 48 uur ná registrasie via e-pos ontvang.
  6. Geen fooie is terugbetaalbaar nie.
  7. 'n Handleiding is ingesluit by die kursusfooi. Maak asseblief seker dat jy die korrekte adres en kontakbesonderhede verskaf vir die aflewering van jou handboek. Trinity Truth Foundation aanvaar geen verantwoordelikheid vir verlore besendings indien foutiewe inligting verskaf is nie.
  8. Sertifikate sal slegs uitgereik word indien alle werkstukke betyds ingehandig word. Die fasiliteerder sal die sperdatums in die kommunikasie bespreek. Jy kan besluit of jy hierdie kursus slegs vir jouself en jou eie innerlike genesing en kennis wil voltooi, en of jy 'n sertifikaat wil ontvang; waarna jy ook die Lig Oorwin Duisternis-kursus kan voltooi en 'n beradersertifikaat kan ontvang.
  9. Ek gee toestemming aan Trinity Truth Foundation om my op 'n WhatsApp-groep te plaas waar admin alle nodige en ekstra inligting met die groep sal kommunikeer.
  10. Ek aanvaar dat alle handleidings en kursusinhoud se kopiereg aan Hosanna en/of Trinity Truth Foundation behoort.