Jesus antwoord hom: Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na Die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)
Ek kan onthou hoe ek as tiener eerder in die kar gesit en wag het vir my ma wanneer sy die groot maandelikse inkopies moes doen. Dan sou ek ure mense dophou ... Nie op ‘n weird manier nie, maar bloot die feit dat ek die uniekheid van mense hoog ag en dan ook besef hoe groot God werklik is.
Dis interessant om te hoor hoe anders mense dink en is.(selfs christene). Party begin van A tot Z en ander van Z tot A, christene stry oor reg en verkeerd, groot of klein, wie mag waar preek, hoe moet jy preek ens., maar tog is daar 'n Middeweg iewers in die middel.
Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus. (1 Timoteus 2:5)
Wanneer ek tyd in die Woord spandeer, wonder ek baie keer hoe sal die Skrifgedeeltes vandag geklink of geskrywe gestaan het. Sou die Bybel in hierdie tyd tot stand gekom het?
Kom ons rafel so bietjie uit en ons kyk na Johannes die Doper se lewe en bediening. Johannes die Doper met die wilde bos hare en onversorgde baard. Die een met ‘n kleed van kameelhare en die een wat sprinkane en wilde heuning eet. Die een wat die guts gehad het om vir die Fariseërs en Sadduseërs te sê hulle is ‘n addergeslag.
Hoe kyk ons vandag na mekaar? Uiterlik … Met watter oë neem ons waar? Kom ons wees eerlik – met die dieet en kleredrag saam met die uitsprake teen die Fariseërs en Sadduseërs, klink en lyk Johannes die Doper na ‘n growwe, onafgeronde, skrikwekkende mens so op die oog af.
Wat was dan die sukses van sy bediening? Om hierdie vraag te antwoord, moet ons onsself probeer verplaas na ‘n tydperk en ander wêreld as waaraan ons vandag gewoond is.
As Johannes die Doper vandag in jou omgewing so sou optree, sou hy dieselfde impak gehad het as destyds? Dalk sou ek en jy saam gestaan het aan die kant van die skare waar koppe geskud word en agter hande gefluister word dat hy van lotjie getik is en net wil aandag trek, maar die blote feit dat mense destyds na hom gestroom het, wys dat hulle hom ernstig opgeneem het.
Dit was nie net sekere dele van die bevolking wat miskien maklik mislei kon word nie. Die Woord is duidelik daaroor (Lukas 4:7–14) dat verskeie groepe uit die samelewing – die gewone man op straat, soldate, tollenaars, selfs godsdienstige leiers (Fariseërs en Sadduseërs Matteus 3:7) – met hom beïndruk was, sy raad gesoek het en hulle deur hom laat doop het. Dis duidelik dat hulle hom glad nie as ‘n grap beskou het nie. Inteendeel, hulle het hom hoog geag. Selfs Herodes Antipas was lugtig vir hom (Markus 6:20).
Josefus noem dat Herodes vir Johannes die Doper laat teregstel het omdat hy ‘n politieke opstand gevrees het. Johannes se gewildheid oor die vrug van sy bediening het Herodes laat vrees dat die mense enigiets sou doen waartoe Johannes hulle geroep het (insluitend opstand).
Johannes se boodskap was eenvoudig: “Bekeer julle, want die koninkryk van God in die hemel het naby gekom," (Matteus 3:2) of: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.” (Markus 1:4). Die bekering waaroor Johannes gepreek het, is nie net die daaglikse toewyding aan God nie, maar ‘n radikale omkeer: ‘n Wegkeer/wegskeur van verkeerde weë en toekeer tot God – ‘n eens-en-vir-altyd bekering.
Johannes was een van die mees invloedryke mans in die geskiedenis. Waar het hy bedien? In die woestyn. Wat was sy passie? He lived a live of one purpose alone – to point people to JESUS CHRIST.
Waarvoor wag jy? Waar bedien jy? Begin en hou aan om te bedien met een doel voor oë – NO MATTER WHAT, point people to JESUS CHRIST.
Praat mekaar elke dag moed in terwyl God nog vir ons die kans gee om dit te doen. Help mekaar dat nie een van julle deur die lekker van sonde so betower word dat julle God nie meer raaksien nie. Wat Christus s’n is, is ons s’n as ons enduit vasberade op God bly vertrou soos ons dit aan die begin gedoen het. Luister weer ‘n keer wat gesê is: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer soos julle gemaak het toe julle teen Hom gedraai het nie.” (Hebreërs 3:13–15)
Daar waar jy bly, waar jy werk, waar jy gereeld gaan koffie drink, in die kar wag, die winkelassistent, jou huweliksmaat, jou familie, jou kinders, jou kleinkinders, die een wat teruggeval het, jou geestelike leier (ja, selfs hulle het van tyd tot tyd nodig om die GOEIE NUUS weer te hoor) ... Bring die oes in. Kyk na die oes. Die tyd is nou … VANDAG NOG.
Ignoreer die stemme wat jou wil terugpraat – hou aan en bly vorentoe beur. NO MATTER WHAT, hou aan om die GOEIE NUUS te bring. Jy sal sien daar waar die salwing is, sal die jukke gebreek word (Jesaja 10:27).
Vry vertaal:
En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: "Aan My is gegee al die mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies, en doop hulle in die Naam van Die Vader en Die Seun en Die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen." (Matteus 28:18–20)
"Later, wanneer Ek weggegaan het, sal Die Vader vir julle ‘n HELPER stuur om by julle te wees omdat Ek nie meer by julle is nie. Die Helper is Die Heilige Gees." (Johannes 14:26)
So wie sal jou kan keer met jou Heilige Gees-Helper by jou? Vertrou liewer op Die Here en doen wat goed is – woon en werk rustig voort (Psalm 37:3).
No matter what! Bly vashou aan Die Waarheid. Gaan vertel hulle. VANDAG NOG. No matter what!